News

GERT JANTJIES

Gert Jantjies

Gert se ogies skitter terwyl hy vertel van ‘n leeftyd as plaaswerker.  Na 18 jaar as geliefde plaaswerker op Koelfontein, tree hy einde Junie 2017 af.  Gert onthou die dag toe hy op Koelfontein begin het, soos gister.  Hy het nog gestaan en wag vir papierwerk om afgehandel te word, toe Handri se pa, Frans Conradie, hom vra hoekom hy nog nie werk nie.  Hy vertel met ‘n laggie hoe Frans se bakkie soos ‘n spook was:  “Jy hoor hom nie kom nie, as jy jou rug draai, is hy net daar!”

Gert het begin as drywer, maar een dag raak hy toe so lus vir boomsny, dat hy sommer skelm by ‘n span in die Skilpadboord aansluit en een boom snoei.  Hy was net klaar, toe Frans se bakkie die boord inkom en reg langs die boom wat hy gesnoei het, kom stop.  Frans wou weet wie die boom gesnoei het.  Dieselfde dag nog word Gert ‘n pos as spanleier aangebied en tot vandag toe deel hy so sy kennis van bome met ander.

“Die lekkerste tyd op die plaas , is oestyd.  Dan is hier baie mense wat geleer moet word om ‘n boom te verstaan.  As die oes mooi is, moes ek die manne briek dat dinge nie te rof gaan nie.  Snoeityd was my kos.  Ek glo dat mens nie vir ander mense net moet voorsê wat om te doen nie.  Jy wys hom en dan laat jy hom dink oor hoekom dit so gedoen word.”

Daar was moeilike tye ook.  “Drie groot droogtes en haelstorms het ons soms op ons knieë gehad, maar elke keer het ons daarin geslaag om nog steeds ‘n oes af te haal omdat ons ons bome reg hanteer het.  Die groot brand in 2005 het ons geruk en die 2012 onluste was ‘n tragiese besigheid.”

Gert is dankbaar vir die opleiding en dienste wat hy en sy gesin hier ontvang het.  “Ek het hier besef dat my keuses bepaal waar ek is en waarheen ek oppad is.  Ek is dankbaar dat ek ook my kinders op die pad kon sit sodat hulle in die lewe kan vorder.”

“Koelfontein moet hou wat hulle het.  Ons sal ver kom met dit waarmee hulle besig is.  Ek kan sien baie kopwerk gaan in die werk hier, dinge bly nie net dieselfde nie.  Ek is ‘n trotse Koelfonteiner en sal altyd een bly.  Dis ‘n spogplaas hierdie.”

Gert is nie van plan om te gaan stilsit nie en gaan steeds beskikbaar wees om uit te help waar ‘n hand nodig is.  Mooi loop, Gert, jou voetspore lê.

Hande web